Na ‘n hele veertien dae se verlof is ek weer terug op kantoor!!! Die wegbreek was ongelooflik lekker. Ons was vir nege dae weg en het 6 000km in die 9 dae gery. Dit klink seker baie erg, maar dit was so lekker om as gesin heeldag op die pad in mekaar se geselskap te wees en niemand kan wegloop nie! Namibië was pragtig! En Etosha was ‘n belewenis! Ons het ‘n paar dae by familie in Walvisbaai gekuier – bloed is verseker dikker as water! Dit was ‘n fees! By een van die bekende kettingwinkels waar ons natuurlik na die groente se pryse en kwaliteit gaan kyk het, was daar een enkele blomkool teen R23,99 te koop en ‘n pak met ‘n klein blomkool en klein broccoli was R22,99! Ongelooflik! Een enkele blaarslaai het teen R16,99 verkoop!!!! Dan moet ek dit ook onder julle aandag bring dat die kwaliteit baie swak was, maar dit is te verstane, want al hulle groente kom van ons geliefde Suid-Afrika af. Mense – ons moet dankbaar wees vir alles wat ons het!
Dankie aan Lorinda en haar span by Aqua Spa & Skin Clinic, op Jeffreysbaai, vir die lekker bederf waarmee ek en ‘n vriendin die ruskansie kon afsluit.
So met die baie ry en gesels het ek besef hoe baie ek ons gesin afskeep. Ek het ook besef dat dit nie oor kwantiteit tyd gaan nie, maar kwaliteit tyd!!!
Gedagte vir die week: “Onthou dat geluk nie gebaseer is op wat jy besit of bymekaar gemaak het nie, maar eerder op die verhoudings wat jy met die mense in jou lewe opgebou het.”
Julle moet ‘n baie spesiale week beleef en gee maar bietjie ekstra aandag aan die spesiale persone in jul lewens!!!